Uit die pen van ons Eienaar...

Liewe ouers, personeel en vriende van Kleuterzone, met groot dankbaarheid en trots deel ek hierdie boodskap met julle. Kleuterzone is nie net ‘n plek waar kinders leer nie, maar ook ‘n gemeenskap waar ons saam groei, leer en droom. Ons strewe altyd daarna om ‘n veilige, liefdevolle en stimulerende omgewing vir elke kind te skep.

Die afgelope paar maande het ons groot mylpale bereik. Ons nuwe interne programme soos KleuterKrag, GeselsGoggas, Koskabouters en ons Robotics en Kodeer-klasse bring ‘n vars energie na ons skole. Hierdie innovasies verseker dat ons kinders die geleenthede kry om hul kreatiwiteit en vaardighede ten volle te ontwikkel. Verder het ons Toggel, ons nuwe kommunikasie- en moniteringstelsel, bekendgestel, wat ouers help om op hoogte te bly van hul kinders se dag-tot-dag ervarings.

Ons verstaan dat die wêreld voortdurend verander en dat onderwys aanpasbaar moet wees om by die eise van ons tyd te pas. By Kleuterzone bly ons toegewyd aan uitnemendheid in vroeë kinderontwikkeling, en ons spanne werk onverpoosd om elke kind die beste moontlike begin in hul opvoeding te gee.

Ek wil ook elke ouer bedank vir julle ondersteuning en vertroue. Julle is ‘n kern deel van ons sukses, en sonder julle sou hierdie reis onmoontlik wees. Aan ons wonderlike personeel – julle passie, toewyding en harde werk is wat Kleuterzone uniek maak. Dankie dat julle elke dag ‘n verskil maak in die lewens van ons kinders.

Laat ons voortgaan om saam te werk en ons visie vir uitnemende onderwys en groei vir elke kind te bou. Die toekoms is helder, en ek sien uit na alles wat ons nog saam sal bereik.

Ons sal Reinette altyd onthou...​

“Elke kleuter is nog ryk aan verbeelding en in my mening ‘n ongeskilderde doek waarop ons as volwassenes; ouers en onderwysers die pragtigste kunswerk kan skep, die verbeeldingswêreld te ontwikkel en om hul te ontmoet op hul ouderdomsvlak.

Kinders kan ook vergelyk word met ‘n motor met 4 wiele. Hierdie wiele moet almal min of meer ewe hard gepomp word vir die motortjie om gemaklik te kan ry. ‘n Kleuter se 4 wiele is sy: Sosiale-, Emosionele-, Fisiese- en Intellektuele vaardighede. Dit is ons as volwassenes se verantwoordelikheid om hierdie vaardighede optimaal te ontwikkel.”