“Ek het geweet, by die skool is ek veilig”
DANVILLE. – Elke oggend, wanneer die son stadig oor Danville opkom, stap ‘n klein seuntjie met verslete skoene oor die pad. Sy hand klou styf aan sy jonger sussie s’n. Hy weet, net anderkant die draai, wag iets wat sy wêreld verander: Eden Akademie. Hier, binne die mure van dié Christelike, Afrikaanssprekende leersentrum, is daar ’n kans op ’n beter môre.
Vir Melandri Sneygans, die skoolhoof van Eden Akademie, is hierdie nie net ’n beroep nie – dit is ’n roeping. Sy ken hierdie strate. Sy ken die lewens van die kinders wat daar woon. Self is sy ‘n kind van Danville. Sy het in dieselfde strate geloop, het gesien hoe maats in die skadu’s verdwyn sonder geleenthede, sonder hoop. Maar sy het haar eie pad gebaan en vandag is sy hier – ’n rolmodel, ’n mentor, ’n stem vir dié kinders wat nie altyd gehoor word nie.
Skep ‘n veilige hawe
“Dit wat jy dink is ‘n gesonde lewe, is nie altyd wat hierdie kinders as ‘n gesonde lewe ken nie,” vertel Melandri. “Baie van hulle ken nie ‘n huis met ‘n groot kombuis of ‘n skerm-TV nie. Maar ons wil vir hulle ‘n ander realiteit wys. Ons wil vir hulle ‘n veilige hawe skep waar hulle kan leer, groei en hoop.”
Eden Akademie is meer as net ‘n skool. Dit is ‘n familie – ‘n gemeenskap van mense wat omgee, wat saamstaan en vir wie geen kind onsigbaar is nie. In die oggendklasse, tesame met die kleuterskool, Groei Goggas, wat op dieselfde perseel is, is daar 75 kinders en in die middag is daar 120 gemeenskapskinders wat leerondersteuning en voedingsprogramme ontvang. Daar is nie net onderrig nie, maar ook ‘n sosiale en emosionele ondersteuningsnetwerk.
“Wanneer ‘n kind by Eden instap, is daar ‘n kans om ‘n ander toekoms te bou. ‘n Toekoms waar hulle nie net oorleef nie, maar floreer. Dit is ‘n plek waar ‘n kind wat gister honger was, vandag ‘n warm bord kos kry. Waar ‘n dogtertjie met groot drome maar min geleenthede, iemand het wat haar aanmoedig. Waar ‘n seuntjie wat sukkel om te lees, uiteindelik die regte ondersteuning kry om suksesvol te wees,” vertel Melandri.
Die impak van ‘n gemeenskap wat omgee
Die skool bied uitstappies aan, maar met ’n heel ander uitgangspunt. “Dié uitstappies is ‘n venster na ‘n ander wêreld. Baie van hierdie kinders se ouers het nie die kennis of middele om hul kinders met skoolwerk te help nie, maar hulle kan deelneem aan die uitstappies en sodoende kwaliteittyd saam spandeer. Ons bring die wêreld na hulle toe.”
Só gaan dié groep kinders binnekort self begin “boer”, deurdat ’n plaas in die omgewing grond aan hulle beskikbaar gestel het om hulle eie groente te plant. “Hulle verskaf aan ons groente, maar nou kan ons dit binnekort self groei en ook sodoende leer.”
Die werk hier verander lewens
Vir Melandri is dit ‘n persoonlike missie. Die huis waarin sy nou werk, is dieselfde huis waarin sy baie tyd in haar grootwordjare saam met die kerk spandeer het. Elke drukkie van ‘n kind, elke lag van ‘n maatjie, elke ouer wat sê, “Juffrou, my kind is so lief vir die skool”, is ‘n bewys dat die werk wat hier gedoen word, ‘n lewe verander. Selfs wanneer omstandighede verander, bly die kinders na Eden Akademie terugkeer – want dit is nie net ‘n skool nie, dit is ‘n tuiste. “Wanneer ek Danville binnery in die oggend, dan onthou ek hoe ek skool toe gestap het in die oggend. Ek het geweet: by die skool is ek veilig. Ek wil dit ook vir ander kinders gee.”
Skenkings en donasies die ruggraat van ontwikkeling
Anthonie Bougas, eienaar van die Kleuterzone Groep, het van die skool te hore gekom. “Ek het dadelik geweet dit is ‘n projek waar ons wil betrokke by raak. Ons kleuters by ons kleuterskole het al die hulpbronne wat hulle benodig en ons wil dit ook gee vir ander kinders. Daarom was dit ‘n uitgemaakte saak. Ons het vir hulle ‘n baie groot klimraam en finansiële bydrae geskenk, wat direk gaan vir die ontwikkeling van die kinders en verbetering van die skoolperseel.”
Lewenslyn vir kinders
Melandri sê sy moes “sit” toe sy die nuus hoor. “Ek is so dankbaar vir dié bydrae! Dit is nie net ‘n gebaar van ondersteuning nie, maar ‘n lewenslyn vir die kinders. Dit beteken dat daar meer hulpbronne is vir kinders wat spesiale ondersteuning nodig het, dat daar gesorg kan word vir voeding, opvoedkundige hulpmiddels en selfs basiese behoeftes soos woordeboeke en skoolbenodighede. Dit beteken dat kinders in hul vakansies ‘n bord kos kan kry deur die voedingsprogramme, dat ‘n maatskaplike werker daar is om kinders te ondersteun wat trauma beleef het en dat ‘n kind wat nie ‘n bril kan bekostig nie, die finansiële ondersteuning kan kry om sy oë te laat toets en bril te ontvang.”
’n Roepstem aan die gemeenskap
Eden Akademie is ‘n baken van hoop in Danville en Elandspoort – ‘n plek waar kinders wat andersins in die skadu’s sou verdwyn, nou ‘n kans kry om hul volle potensiaal te bereik. Maar dit kan nie alleen gedoen word nie. Die deure bly oop deur skenkings, gemeenskapsbetrokkenheid en mense wat omgee.
Daar is soveel maniere om te help:
- Borg ‘n kind om seker te maak hulle kry die nodige ondersteuning.
- Raak betrokke by die voedingsprogram sodat elke kind met ‘n vol magie kan leer.
- Help met opvoedkundige hulpmiddels, van skryfbehoeftes tot leermateriaal.
Eden Akademie staan as ‘n bewys dat onderwys en liefde ‘n gemeenskap kan verander. Dit begin met ‘n kind, ‘n droom en mense wat bereid is om die toekoms te bou.
Besoek edenakademie.org vir meer inligting.